




STORIES
Jesus sit die storm sagter
5 May 2011
Kindertjies is só opreg en soms so blatant eerlik dat mens nie anders kan as om dit oor te vertel nie. Dit is seker een van die redes waarom Jesus so mal was oor hulle en sommer kwaai was met die dissipels toe hulle die kindertjies verbied het om naby hom te kom.
Een van die hoofdoelstellings of fokusareas van ons kinderhuis is om aan hulle geestelike behoeftes aandag te gee. In praktyk beteken dit dat ons onder andere kerk toe gaan, maar meer nog dat ons daagliks en deurlopend oor Jesus praat en sing. So luister ons elke dag na Jan de Wet en die loflaaities se liedjies in die motor skooltoe en terug. Ons twee kleutertjies (oorspronklik Zulu-sprekend) sing hartlik saam. So sing die dogtertjie luidkeels saam met die liedjie oor Jona wat na Nineve toe moes gaan soos volg: “Jona, Jona gaan inne fiets” i.p.v. gaan na Nineve!
Om nie te praat van al die vrae oor Jesus en God nie. “Wie is nou weer Jesus se pappa? Waar is hy? En is Jesus se ander naam Immanuel, en wat is Immanuel se ander naam en is hy ook Jesus, en wie het gesê sy naam moet Immanuel wees, wat beteken dit nou weer? Nou waar is Jesus se mamma nou? Gaan Jesus vandag terugkom! Gaan Hy op die wolke kom? Seker nie vandag nie, want daar is niks wolke in die lug nie, né Antie Lina!” Soe, ek moet sê met tye raak dit ‘n teologiese nagmerrie, want dit is so ‘n misterie, maar terselfdertyd tog so eenvoudig. “Wees net lief vir Jesus, dis al wat regtig saakmaak. En ja, ek wens Hy wil vandag terugkom om ons te kom haal” wil ek byvoeg, “dan kan Hy sommer self al julle vrae beantwoord!”
So lees ons een aand die storie van Jesus wat die storm stilgemaak het. Om seker te maak hulle luister aandagtig, vra ons ‘n paar vragies na die tyd oor wat gebeur het en wat hulle geleer het uit die storie. So vra ons vir hulle, “Wat het Jesus gedoen toe hulle hom wakker gemaak het?” “Ek weet, ek weet” sê ons klein seuntjie en spring opgewonde op en af, “Hy het die storm sagter gesit!” Wow, dit is so wonderlik. Jesus kan die storms in my lewe sagter sit, nie noodwendig wegneem nie, net sagter sit, want Hy kan dit doen, Hy is mos in beheer!
Het jy al vir Jesus gevra om ‘n storm bietjie sagter te sit?
